Retief Burger is ’n aanbidder in sy wese. Sy musiek vind aanklank by ’n wye verskeidenheid mense omdat dit opreg en modern is.  Hy is egter nie net ’n aanbiddingsleier nie, maar glo dat God hom geroep het om mense te lei na die hart van die Vader. Retief het ook 'n passie vir die kerk en is nog altyd diep geanker in 'n plaaslike gemeente waar hy lei, dissipels maak en die Woord bedien.

Hy is gelukkig getroud met Isabella, sy jarelange vriendin en geniet pa-wees saam met Wynand, Carlu en Elizna. Hulle hou van sport, saam vakansie hou en nuwe avonture aanpak.

Retief het nog nooit enige begeerte gehad om ‘n “kunstenaar” te wees nie.  Hy wou aanvanklik net relevante Afrikaanse lof- en aanbiddings liedjies skryf om die studente by Kruispunt (’n Studentebediening in Potchefstroom waar hy in die vroeë 2000's bedien het) in God se teenwoordigheid in te lei.  Dit was Louis Brittz wat hom uiteindelik in 2005 oorreed het om sy musiek op CD vas te lê en die musiek tot die hele land se beskikking te stel. Retief: “As dit nie vir sy visie was nie, sou Luidkeels nooit gebeur het nie. Ons sou nooit kon droom wat die Here hiermee wou doen nie.”

Toe Luidkeels in 2005 vrygestel is, kon niemand daaroor stilbly nie en het die album die grense in Afrikaans lof en aanbidding geskuif. Sy daaropvolgende twee albums, Luidkeels Hersien en Luidkeels Oorgegee het gevolg met nuwe musiek, vanuit die kerk vir die kerk. Album nommer drie was Luidkeels Dieper, wat in Sept 2012 vrygestel is nadat dit lewendig opgeneeem is by 'n aanbiddingsleiers konferensie in Pretoria. Dit was sy laaste album wat onder die Luidkeels naam vrygestel is.  

In April 2015 word Retief se eerste solo album vrygestel met die naam Nou en vir altyd. Dit was geskryf met een boodskap: om Jesus te eer, in elke seisoen - vir nou en vir altyd. Julie 2015 sien die vrystelling van die lewendige aanbiddingsopname by die Mighty Men Karoo konferensie saam met Joe Niemand en Dewald Gouws met 30 000 manne wat bulder in die agtergrond.

In 2017 het sy album Alles die lig gesien en in Februarie 2020 die album Oorwin.  Nooit sou hy kon dink dat dit so nodig sou wees in die jaar toe die pandemie die wêreld geruk het nie. Hy en Isabella se liedjie, In die middel van die storm was so tydig - veral omdat dit in September die vorige jaar al geskryf is - min wetend oor wat sou kom. Maar God weet altyd en Retief se begeerte is om altyd sy oor naby God se hart te hou.

In 2021 het hy en Riana Nel hande gevat en Die Seën vertaal en opgeneem. In 2022 het hy seker ook sy bekendste lied, Sekelmaan, twintig jaar nadat dit geskryf, heropgeneem as 'n simfoniese weergawe met die hart van die Hemelse Bruidegom wat steeds sing oor sy bruid.

Retief is ook 'n kranige skrywer met twee boeke wat die lig gesien het uit sy pen. Oorgegee - om luidkeels tot sy eer te leef en 'n tweede genaamd Dieper, wat in Oktober 2013 vrygestel is.  

Deur al Retief se musiek jare was hy altyd voltyds by 'n kerk betrokke omdat hy glo dat om geanker in 'n plaaslike gemeente te leef die Bybelse fondasie lê vir enige bediening daar buite. Hy is voltyds leraar by Every Nation Tshwane waar hy vir sewe jaar die Lynnwood gemeente gelei en toe oorgegee het om 'n nuwe gemeente in Elarduspark te plant. Hier fokus hy daarop om ‘n nuwe generasie kerkplanters en dissipelmakers op te rig. Sy passie vir die kerk, prediking en sy land bly die hartklop van sy bediening.

Retief: “Ek dink my grootste uitdaging is om na alles nogsteeds daagliks in alle afhanklikheid voor God te leef. Dit is vir my so belangrik om in ‘n plaaslike gemeente te dien en net ‘n gewone dissipelmaker te wees.” Hy behartig wel elke jaar 'n paar optredes, maar sy eerste fokus bly sy verpligtinge by sy gemeente, waar hy sy passie vir kerk en dissipelskap uitleef.